Die Wonder Van Evolusie – Waarheen?
Baie interessant. Daar is glo so bietjie Neanderdal in almal van ons, dws as jou herkoms van Europa, Asië of Australië is!
"Die jongste genetiese navorsing wys dat die moderne mens en die Neanderdal-mens nie net saam geleef het nie, maar dat hulle sowat 400 eeue gelede gekruisteel het … Die navorsers het bevind dat 4% van die moderne menslike genoom van Neanderdal kom" (kyk Moderne mens hét gene van Neanderdal in Beeld).
Let wel, mense van Afrika het geen Neanderdal-DNS nie, en dit "dit is moontlik dat die kruisteling tussen die Neanderdal en vroeë moderne mense in die Midde-Ooste plaasgevind het nadat hulle Afrika verlaat het."
Dit wys jou net, die skeidslyn tussen "mens" en "dier", of Homo sapiens en vroeër homo spesies is oppervlakkig. Hoeveel "mens" of "dier" was die Neanderdal spesie? Ons kan dieselfde vraag van Homo sapiens vra! Soos in 'n vorige skrywe gevra is, is dit net Homo sapiens, of te wel, die menslike bewussyn, wat kan kwalifiseer as die "beeld van God"?
Is alle fasette van die skepping nie dalk die "beeld van God" wat na volle werklikheid voortbeweeg nie, en waar Homo sapiens tans aan die voorpunt staan nie? Is daar iets wat ná Homo sapiens sal kom wat "God se beeld" selfs nog méér sal verteenwoordig?
Ek is vas oortuig dat daar 'n inherente potensiaal in die materie van die heelal is om "God se beeld" aan te neem.
Kyk na die volgende tabel, geneem en aangepas van Jacob Klapwijk se "Purpose in the Living World?: Creation and Emergent Evolution " (bl. 117), en wat hy na verwys as die "model of emergent evolution":
Na so 13.7 miljard jaar het waterstof en helium ontwikkel tot galaksies en sonnestelsels, minerale en uiteindelik tot wesens wat morele en geestelike verstand het. Dit is nie perfek nie, maar die bewustheid is daar, wat hand aan hand staan met logiese en kreatiewe denke en verbeelding.
Nou moet ons wonder, as evolusie sy gang sal gaan, waar dit alles sal opeindig. Elke vlak van ontwikkeling werk volgens sy eie wette en het eiesoortige kenmerke wat nie tot 'n laer vlak gereduseer kan word nie. M.a.w. die diere (sensitiewe) vlak kan nie verduidelik word op die plante (vegeterende) vlak nie, ensovoorts. 'n Mens kan spekuleer, met 'n sekere mate van vertroue, dat die volgende modaliteit (na die mens) ook nie tot die menslike (verstandelik) vlak gereduseer word nie, maar sal iets besonders en nuut wees.
Waarheen is alles oppad?
