Die Kommandokorps: ‘n Oorlog van die (Boere-)bewussyn
Na so 'n bietjie gesoek kan mens die webtuiste van die Kommandokorps in die hande kry. Dit is 'n geregistreerde Artikel 21 sekerheidsmaatskappy gestig deur ou weermag offisiere wat hulleself toespits op die beveiliging van mense, of beter gestel, die opleiding en bewapening van die Boerevolk of kamerade teen die "vyand". Hulle doel is onder andere soos volg:
Die primêre doel van die Kommandokorps is dat lede ‘n veiligheidsnetwerk in hul omgewing op die been sal bring wat in tye van nood en anargie mekaar sal bystaan en beskerm. Die netwerk bestaan uit verskeie komponente wat almal daarop gemik is dat lede wedersydse beveiliging aan mekaar verskaf deur middel van;
- Gereelde veiligheidsopleidingskursusse en skietdae.
- Gemeenskapsreaksie wanneer ‘n ander lid in tye van onrus en anargie dit sou aanvra.
Ons onderneem dus om;
- mekaar se lewens en eiendom so ver moontlik onderling te beskerm en te beveilig.
- Gemeenskapsveiligheid en stabiliteit in wyks- en gebiedsverband te bewerkstellig.
- ‘n landwye beveiligingsnetwerk te vestig.
- die Kommando-stelsel landwyd te hervestig
- die Kommando-stelsel self te bedryf
[ ... ]
Vereistes vir Lidmaatskap
Enige Kaukasiër (Blanke) kan om lidmaatskap vd Kommandokorps aansoek doen mits hy of sy;
- Reeds die ouderdom van 16 jaar bereik het.
- Die Reglement van orde van die Kommandokorps onderskryf.
- Die voorgeskrewe prosedures om lidmaatskap volg.
- Die verpligte ledegeld soos deur die Opperraad van die korps bepaal, betaal.
- Nie ‘n lid is van ‘n organisasie wat nie- Christelike waardes onderskryf nie.
As 'n mens na die fotos op hulle webtuiste kyk (mense op perde, die ou landsvlag, die Vierkleur of ou Vrystaat vlag, gewere en nogmaals gewere, kadette wat marsjeer en "leopard crawl") lyk dit meer asof hulle regmaak vir oorlog, maar 'n oorlog wat so 100 jaar te laat gekom het.
Eintlik is hulle maar net 'n voorbeeld van Afrikaner-primordialisme. Selfverdediging – wat ons almal benodig teen misdaad – word geklee in Afrikaner, of te wel, "Boere" simboliek en kultuur. M.a.w. selfverdediging is eintlik maar net 'n verskoning vir die uitleef van 'n eng en eiebehepte identiteit.
Dit is 'n oorlog van die (Boere-)bewussyn, 'n bewussyn wat nie kan aanpas nie. Dit is patetiese magteloosheid wat homself wil voorgee as 'n rotsvaste "waarheid" en bron van sekuriteit. Wie wil aan so 'n Afrikaner- of Boere-identiteit deelneem?
Hulle doen ook 'n oproep om 'n kommando te stig in jou area. So kameraad, is jy magteloos genoeg om aan te sluit?

