Bladsye

Hoekom?

Wat gaan ons word?

… want die toekoms wag vir ons, en waarheen is ons oppad? Sal ons mense wees wat ons plek sal volstaan in die internasionale gemeenskap? Sal ons mense wees wat ons kinders die wêreld sal bied? Sal ons dáár wees?

Afrikaners bevind hulleself by ‘n kruispad.

Maar kom ek vertel julle eers so ‘n bietjie van myself.

Ek is ‘n middeljarige blanke man. Ek woon in Johannesburg en is getroud met twee kinders. Die jaar toe ek gematriekuleer het was die jaar toe Nelson Mandela uit die tronk gelaat was. Dit was onsekere tye, maar met die wêreldbeker oorwinning in 1995 het dinge so bietjie bedaar. Van daardie tyd af het dinge maar stelselmatig agteruit gegaan – ons almal weet waarvan ek praat, so uitbreiding is nie nodig nie.

Ek het ‘n PhD in die Nuwe Testament en spesialiseer op aspekte van sosiale identiteit en groepsverhoudinge. Ek is lief vir lees en skryf, toe dag ek ‘n blog (of  ‘n webjoernaal vir die puriste) sal ‘n aangename manier wees om uiting te gee aan my gedagtes en insigte wat ek verkry het deur jare se navorsing.

Wat my veral kwel is die algemene negatiwiteit onder Afrikaners. Dit het my op ‘n dag aangespoor om ‘n brief aan Beeld te stuur, waar ek hulle vergelyk het met “prawns” (sien District 9 fliek) wat teer op die ashope van kwaalafval. Reaksie daarop was meestal negatief met ewigdurende verwysings na ons land se probleme van misdaad en diskriminasie. Twee dae voor dit het ek nog ‘n brief ingestuur waar ek Afrikaners gemaan het om soos Madiba ‘n versoeningsgebaar daar te stel, deur die Springboktrui te vervang met die een van Bafana Bafana met die oog op 2010. Reaksie hier was, met ‘n paar uitsonderings, ook ‘n magtige dreuning van volksvervreemding.

Nou vra ek, hoekom moet ons geluk of veiligheid afhang van een of ander onbeholpe regering? Moet ons slawe wees aan ‘n slagoffer-sindroom? Wil ons onself altyd van ander mense vervreem en dink dat net óns probleme het?

Hierdie blog is gemaak om gedagtes te deel met positiewe en denkende Afrikaanssprekendes. Dit is nie ‘n hunkering na die apartheid jare nie, maar ‘n verkenningstog na ‘n nuwe manier van Afrikaans wees. Wat beteken dit om Afrikaans (en mens) te wees in die 21ste eeu? Miskien is dit nie so belangrik wie ons nou is as wat ons besig is om te word nie.

Laat die word begin … en, o ja, weg met ‘n negatiewe mentaliteit!

mede-Nadenker.

Voel gerus vry om kontak met my te maak.