Bladsye

PRAAG (of Dr Dan Roodt) Bied Nóg Vryheid Nóg Soewereiniteit Aan Afrikaner

Kom ons blaas 'n vuvuzela in die gesigte van mense wat in die naam van Afrikaners 'n klomp nonsens praat!

Vuvuzela

Hoekom hierdie soort skrywe? Dit gaan oor PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep), of te wel, Dr Dan Roodt se uitlatings vandag in Rapport. Maar eers so bietjie agtergrond oor groepsverhoudinge.

Dis 'n tiepiese kenmerk van groepsverhoudinge om die groep waaraan jy behoort in 'n positiewe lig te sien en alle buite groepe negatief te stereotipeer. "My/ons" groep is mos "die beste", en groepe – veral met wie jou groep kompeteer – word op elke moontlike manier verkleineer. Dit gaan om 'n positiewe selfbeeld of identiteit van "ons" daar te stel, maar altyd ten koste van enige mededingende groepe. "Ons" is beter as "hulle".

Nog 'n kenmerk van groepsverhoudinge is om die verskille tussen mense, hetsy van die binne- of buitegroep, te reduseer, sodat lede gesien word as die met dieselfde karaktertrekke of vermoeëns. Ons is beskaafd en eerstewêreld. Alle swart mense is dom en agterlik. Alle Afrikaners is rassiste. Alle Moslems is terroriste, ens.

Hierdie tipe gedrag onder mense en groepe is universeel, alhoewel dit primitief, naïef, en beslis nie baie intilligent is nie. Natuurlik is hierdie ook van die verskeie oorspronge van etniese konflik en diskriminasie, en in 'n Suid-Afrikaanse konteks is duidelik waarneembaar.

Dit bring my tot Dr Dan Roodt wat bogenoemde duidelik  illustreer. Kyk die meerderwaardigheidskompleks wat hy het en hoe hy mense (meestal swart mense?) negatief stereotipeer en oor dieselfde kam skeer. Vandag lees ek in die Rapport waar hy Afrikaners aanmaan om liefs Nederland en nie Bafana Bafana te ondersteun nie. Hoekom? Volgens Dr Roodt:

"Op die keper beskou, het ons Afrikaners … veel meer gemeen met Nederlanders as met die bonte versameling kinderverkragters, korrupte politici en ander sosiopate wat hulself in hul gewoontebesopenheid graag 'Suid-Afrikaners' noem."

Dit gaan 'n mens se verstand te bowe dat 'n geleerde persoon so iets kan kwyt raak.

Dr Roodt sê verder in die Artikel dat Afrikaners vir Nederlanders (vergeet maar van die wat Frankryk as herkoms het, want hulle is maar 'n uitheemse Afrika-span) moet inwag by die lughawe met oranje hemde getooi en hulle huis toe neem vir 'n braai.

Wat dit op sinspeel is dat Afrikaners hulle meerderwaardig kan ag a.g.v. van hulle afstammeling van Nederland (Europa). Afrikaners het min te doen met die mindere wesens wat in Afrika onstaan het. Afrikaners is so veel beter as die meeste mense in Suid-Afrika.

Ag shame.

In 'n onlange "Ope brief aan Afrikaners" skryf Dr. Roodt ook onder andere dat PRAAG "Sedert Februarie 2000 … die pas en rigting aangedui sodat ander kon volg … Ons was nog nooit polities korrek nie en het nog altyd die ding gesê soos hy is. Daarom verkeer PRAAG vandag op die voorpunt van die stryd om die Afrikaner weer vry en soewerein te maak. Oor die afgelope weke en maande was daar ‘n geweldige verskuiwing in die Afrikaanse openbare mening ten gunste van PRAAG se toonaangewende visie."

Die menings was gelig in 'n konteks van 'n oproep om geldelike hulp vir beveiliging van mense (Afrikaners) teen misdaad. My probleem is nie dat mense hulleself wil beskerm nie, my probleem is hoe Dr Roodt  en kie hulleself daar stel as '"leiers wat ander kon volg", die reg toeëien om namens mense soos ek te praat terwyl baie daarvan 'n klomp twak is.

In die konteks van Afrikaner-wees en die Afrikaner-toekoms, bied PRAAG ware leierskap of toonaangewende visie? Ek twyfel.  'n Doodloopstraat? Beslis. En ja, hulle is nie polities korrek nie, stem, maar hulle is ook nie oor baie ander dinge korrek nie. En hulle bied nóg vryheid nóg soewereiniteit aan die Afrikaner, liewers lugkastele en primitiewe denke.

Ware vryheid en soewereiniteit word verkry deur verouderde denke, inkluis rassisme en die ilusie van "ons is beter as hulle", te ontgroei.

Ek hoop van harte dat wanneer Nederlanders die met oranje hemde by die lughawe teëkom hulle net sal verby stap en 'n vuvuzela in hulle gesigte sal blaas. Dit sal die "beskaafde" en "eerstewêreld" ding wees om te doen.

Skryf iets!

XHTML: U kan die volgende tags gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong> <font color="" face="" size=""> <span style="">